Ons Storie
Die Naguilklub is gestig deur Lente Swift, Juanli Theron en Suzanne Smit, drie gewone, Afrikaanse ma’s wat besluit het om ons hartservarings van moederskap te deel – die belaglike, snaakse oomblikke, die soet en ook die swaarkry – sodat ander ma’s kan sê ‘ek ook!’
Soos wat ons ma’s geword het, het ons aanvanklik elkeen individueel bietjies-bietjies begin skryf oor moederskap op sosiale media, maar dit het nie die skielike behoefte aan ‘n oudtydse “village” bevredig nie.

‘n Plek om te behoort,
waar jy nie alleen en geïsoleerd voel nie,
waar jy die uitdagings en
die vreugdes van moederskap kan deel,
en waar jou ervarings sonder oordeel en verwerping gehoor kan word in ‘n veilige spasie.
Wat begin het by Whatsapp-geselsies tydens middernagtelike pyjama-drills, waar ons opregte deernis met mekaar se ervarings geleer het deur na mekaar se stories te luister, het gegroei na ‘n digitale oase vir duisende ma’s waar ons elke oggend om 06:00 hardop oor die lewe wonder (terwyl ons wag vir die ketel om te kook).

“Ons deel met mekaar om sodoende by mekaar te leer …”


” ‘n Plek om te behoort, waar jy
nie alleen en geïsoleerd voel nie … “
Die behoefte aan ‘n Afrikaanse digitale ouerskapsplatform binne die Suid-Afrikaanse konteks was immers nie uniek aan ons nie. Omdat ons dit nêrens anders kon vind nie, is Die Naguilklub in 2018 gebore in antwoord op die vrae wat ons oor ouerskap wou vra. Vandag is dit ‘n digitale gemeenskap en inspirasiestasie waar ons stories en ervarings oor ouerskap – ongefilterd en altyd sonder oordeel – kan uitruil.
Ons deel met mekaar om sodoende by mekaar te leer, die vele onrealistiese verwagtinge van ouerskap aan te spreek, die invloed van sosiale media en strewe na perfeksie af te breek, en om onderwerpe soos geestesgesondheid onder ma’s en vroue te normaliseer. Ons skryf vanuit ons persoonlike ervarings en eie perspektief, met die doel om ander ma’s minder alleen en meer normaal te laat voel. Dít is ons hoekom, hoop en hart vir die wêreld.
Die Naguilklub is vandag ‘n familie, ‘n ‘digital village’ en ‘n oggendkoerant. ‘n Eerste in Afrikaans, ons terapie, ons “sanity” en ons almal-is-ewe-(ab)normaal spasie. Ons dink en droom en doen hierdie ouerskapsding hier saam, met liefde en genade vir elke uitdaging langs die pad.
Die Span

Suzanne Smit
Kop & hart
(COO en besigheidsontwikkeling)

Lente Swift
Gebottelde energie
(Uitvoerende direkteur)

Juanli Theron
Woordwysneus
(Kommunikasie direkteur)

Monja Viljoen
Kreatiewe siel
(Kreatiewe direkteur)