Vir alle spreker geleenthede stuur asb ‘n epos met al die nodige inligting deur.

suzanne@dienaguilklub.com

My naam is Suzanne Smit, ‘n nooi Van Wyk. Ek is ‘n plattelandse meisie wat nou in die grote stad woon. Ek en Wynand is 13 jaar gelukkig getroud – hy is die liefde van my lewe en my klankbord. Ons het twee pragtige dogtertjies met sonskynhare, Klaradyn en Nina-Maria. Ons hou van roadtrips (hoe verder van die stad, hoe nader aan mekaar!), goeie koffie en wyn, en om saam kos te maak. Ons is lief vir ons familie en vriende, en heg waarde aan herinneringe saam. “We may not have it all together, but together we have it all” som dit mooi op. Ek is ‘n belastingspesialis (en toegelate prokureur) en ek geniet dit om ‘n oplossing vir ‘n kliënt se “probleem” te vind. Met albei swangerskappe het ek pre-eklampsie gehad. Klaradyn en Nina-Maria was prematuur gebore en in NICU opgeneem. Ons het met hul onderskeie geboortes en eerste jaar vele berge geklim. Met genade van Bo is albei vandag gesond en sterk. Na ons NICU-ervaringe, die uitdagings en onderliggende angs daarna, die ewige stryd om te werk asof jy nie kinders het nie en andersom, asook my ma se skielike afsterwe tesame met my pa se opname in die hospital ‘n paar dae daarna, was ek genoop om deur simptome van post-traumatiese stressindroom te werk. Soms het dit gevoel asof iemand reg deur my kan kyk; dit verg daadwerklike deursettingsvermoë, maar nou is al die speelgoed in die regte bokse. Soos vir die ander Naguile, is dit vir my belangrik om geestesgesondheid te normaliseer. Almal het geestesgesondheid en iets soos PTSD is vir my gelyk aan longontsteking. ‘n Mens kan sê ek het my onderliggende angs verwaarloos en die “griep” het omgeskakel in “longontsteking”. NICU het my geleer om sterker as sterk te wees (jy het nie juis ‘n ander keuse nie), my ma se afsterwe het my geleer dat afskeid en rou vloeibaar is en PTSD het my geleer dat nie net soldate in die slagveld onder skoot kom nie. Die wêreld verander daagliks teen ‘n massiewe spoed en daarom wil ek aktief deel daarvan wees. Ek wil dit beter laat as toe ek hier gekom het. Vir ouers wil ek sê, dit is OK om nie elke dag “on point” te wees nie; vir ons kinders wil ek sê dis belangrik om vir emosies name te gee en om ‘n gesonde verhouding met jou kop, hart en lyf te hê. Ek wil vir almal sê dis OK om kwesbaar te wees en dat jy slegs braaf kan wees as jy bang is.

Artikels