“The name says it all”. Lammetjies wat bokspring oor groen velde besaai met skoenlappers is natuurlik die beeld wat opkom (goeie genade maar dis corny). En alhoewel ek vir seker dit is, is ek óók die doelgerigte krag waarmee nuwe lewe deur die winteraarde breek om die son te soek. My kop is altyd vol nuwe planne, ‘n spontane avonturier, ‘n ewige optimis en ‘n praktiese probleemoplosser. Ek is ‘n Toegelate Prokureur en Notaris met ‘n Honneursgraad in Sielkunde. Ek is passievol oor menslike sterkte, veerkragtigheid en potensiaal. Die geestesgesondheid van vroue, veral soos ons van een lewensfase na die volgende skuif en daar ‘n herontdekking van identiteit is, lê my baie na aan die hart. Dus vind ek myself deesdae in die Lewensafrigter- en Mediasie-spasie. Dit gee vir my die buigsaamheid wat my jong familie tans van my nodig het, en ook tyd om te skryf en saam met Die Naguilklub op te tree as spreker en gas. Met soveel genade het ek ‘n ongelooflike man gevind, wat die moed en krag en humorsin het om my donker en my lig te kan absorbeer. Hy, meer as enige iemand anders, weet my flaters is groot, maar my opmaak, groter. Na 12 jaar se getroude lewe is ons twee kindertjies ryker en woon ons in die mooiste Kaap. My gesin laat my hart oopbars met die tipe onvoorwaardelike liefde wat ek nie geweet het bestaan nie. My kinders se geboortes was die mees epiese ervarings van my lewe. Hulle is my grootste vreugde, my grootste uitdaging, hulle dwing my om meer te wees en te groei in die mamma wat hulle nodig het, en in die vrou van karakter wat ek hoop om te wees. Ek drink te veel koffie, en wyn (want kinders). Ek draf en yoga – vir sanity, sodat my rug ‘n kind op elke heup kan oorleef, en ek vir nog lank vinniger en sterker as hulle kan wees (survival of the fittest, right?). Ek hou rêrig nie van kook nie; helaas moet ons eet. Ek is versot op mooi klere; helaas moet ons eet. Ek en James kom nie tans genoeg uit die land uit om eksotiese nuwe wêrelde te ontdek nie. Ek kom ook nie genoeg in die teater nie en is nogals keelvol vir Lollos en Frozen op my playlist, wat ek eerder met Queen, en ietsie van Puccini, sal wil vervang. So, ek skryf. Om sin te maak van my wêreld, om minder alleen te voel, om intensioneel te leef en om hierdie kosbaarste van tye saam met my kindertjies vas te vang, sodat ek dit eendag weer kan vashou wanneer dit vir altyd verby is. Ek skryf om vir myself, my kinders en die wêreld te vertel: “perfeksie inspireer niemand nie”, want juis in ons brose menslikheid lê ons skoonheid, en om dit vir die wêreld te kan wys, ons ware krag.

Kontak my gerus vir ‘n spreker geleentheid deur ‘n epos te stuur.

lente@dienaguilklub.com