Vir alle spreker geleenthede stuur asb ‘n epos met al die nodige inligting deur.

juanli@dienaguilklub.com

Vandat ek kan onthou, het ek geweet dat ek eendag ‘n ma wil wees. As oudste dogter aan beide kante van my familie en ‘n bossypants van kindsbeen af, het ek grootgeword as ‘n tipiese pliggie met ‘n sterk persoonlikheid, ‘n opinie oor al wat ‘n ding is, en ‘n hardkoppige geneigdheid om te wil leiding neem. Maar toe gebeur moederskap. So seker as wat ek oor alles was toe ek jonger was, so bewus is ek deesdae van my voormalige blindekolle en ongeleerde lesse. Gelukkig is my kinders daagliks my grootste leermeesters – oor geduld (en hoe min ek daarvan het), die lewe (in ‘n oneindige stroom hoekom-vrae van my kleuters af) en liefde (en veral hoeveel ek in staat is om daarvan te ervaar en gee, ten spyte van ‘n vyfjaarlange gebrek aan slaap). Moederskap het my kom temper, en skaaf my elke dag. Dit sou ‘n spesiale tipe man vat om van Mej. Kompleks ‘n Mevrou te maak, en ek is vir ewig verbaas/dankbaar om te kan sê hy’t my gevind. Ek is vir die afgelope dekade al getroud met Tim (‘n akteur en filmmaker), en saam is ons die ouers van sy twee klone, Sophia (5) en Migael (3), twee woelige, wonderlike klein kreatuurtjies vol draadwerk en dinge. My swangerskappe was beide moeilik en gevolg deur dramatiese keisers; ek sal dit egter enige tyd weer deurleef vir die beloning aan die einde daarvan. Die postpartum depressie en paniekversteuring wat later daarop gevolg het? Dalk nie … maar dan sou my wêreld ook nie nou ingekleur kon word deur die ryke oorvloed van selfbegrip en sagtheid wat ek daardeur kon ervaar nie. Die afgelope paar jaar was ek op ‘n reis na binne om dieper insig en empatie met myself te vind, en daarom deel ek dit graag met ander by elke geleentheid waar ek kan. Ek glo dat ons dit aan onsself verskuldig is om te leer wie ons is en ons werklike identiteite met mekaar te deel, want die lewe is soveel interessanter as ons dit volkleur kan leef. Om ongefilterd oor my moederskap, struikelblokke, geestesgesondheid en komplekse binnewêreld te deel is een van my grootste voorregte. In die daglig is ek die Hoof van die Tolkdiens by die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum. Tolking, tale, kommunikasie en die regte woord op die regte tyd – dít maak my liries. Ek is presies so nerdy soos dit – ek erken dit ruiterlik! In die maanskyn sing ek my kinders aan die slaap en skuif dan graag agter my rekenaar (of foon) in om te skep. Ek skryf my geite uit my lyf uit – dis my terapie en sanity – en om dit met lesers te deel is een van my grootste lekkertes. Op ‘n verhoog, of agter ‘n mikrofoon? Nog beter! My lewensmotto is “spel reg; sit mooi; lag lelik.” Ek glo met oorgawe in al drie beginsels. Gooi net ook ‘n doughnut en ‘n goeie latté in my rigting – 80s musiek en ‘n lekker onderwerp om te debatteer opsioneel – en ons kan maar vriende wees. Jy’t die resep tot my saligheid.

Artikels