HOOP EN BREINONTWIKKELING

In 2020 het ons baie geleer. Ek het onder andere geleer om nie te lank vooruit te beplan nie, om die beste uit elke dag te pluk (ten spyte van die inperkings) en dat ons soveel het om voor dankbaar te wees. Ek dink ons almal is ‘n bietjie bang om ons hoop op ‘n beter 2021 te sit in die vrees dat ons (weereens) teleurgestel sal word … En dalk is jy, net soos baie ander ouers, bekommerd oor wat van jou kind gaan word. Jy wonder dalk hoe jy gaan cope as die skole weer gaan toemaak en of jou kind ooit sy volle potensiaal gaan bereik as jy sy juffrou moet wees.

Maar van een ding kan ons seker wees: Jou hoop in jou kinders se toekoms hoef nie te verander nie. Al voel dit vir ons die wêreld is op sy kop, is daar een ding wat dieselfde bly. Ons kinders se breintjies groei en ontwikkel elke dag. Selfs al kan hulle nie skool toe gaan nie, al moet hulle maskers dra en nie naby mekaar sit nie.

Breinontwikkeling begin al voor jou kind se geboorte en hou aan deur die tienerjare totdat jou kind ’n jong volwassene is. Soos ’n huis wat gebou word, is ’n sterk fondament ook hier belangrik. As ouers speel ons ‘n ontsettende belangrike rol in die bou van hierdie fondament. Wat ons kinders se breintjies nodig het is ’n liefdevolle OMGEWING, ouderdomstoepaslike STIMULASIE en genotvolle INTERAKSIES. Dit beteken nie ons moet nooit ons “cool” verloor, of noodwendig ’n pragtige pinterest-geïnspireerde omgewing skep of ’n lys van aktiwiteite deurdraf nie.

Drie basiese breinontwikkelingskonsepte wat ek dink belangrik is in hierdie holderstebolder-deurmekaar tyd is:

  1. Jou kind se brein het beweging nodig

Kinders het nodig om aktief te wees, om te speel en hulle omgewing te ontdek. Dit is belangrik vir die motoriese en kognitiewe ontwikkeling van die brein.

WENK: Maak seker jou kind kry elke dag ‘n geleentheid om aktief te speel en sy wêreld te ontdek. Gaan hou ’n piekniek, ry met julle fietse om die blok, hou ’n skattejag in die tuin, trek tou en boks ’n kussing. As julle nie buite kan gaan nie, maak ‘n hindernisbaan in die huis. Gooi kusssings op die vloer en kruip daaroor, onderdeur ’n tafel, bo-oor stoele en kruip soos ’n krap. Speel musiek en hou ’n danskompetisie of speel musical statues. Stimuleer jou kind se kreatiewe denke en probleemoplossingsvaardighede en moedig hom aan om met komberse, besemstokke en wasgoedpennetjies ’n den in die huis te bou.

  1. Konsekwente roetines help die brein om te ontwikkel

Wanneer jou kind veilig voel, ontwikkel sy brein. Wat laat hom veilig voel? Wanneer dinge gebeur volgens ’n vaste (maar wel buigbare) en voorspelbare roetine. Wanneer julle pap eet in die oggend voordat julle aantrek, wanneer pappa na werk wegkruipertjie speel, wanneer julle twee boekies lees voor slaaptyd.

WENK: Besluit op ’n vasgestelde oggend- en aandroetine wat vir julle as gesin werk. Maak dit voorspelbaar deur prentjies of foto’s op te plak sodat jou kind kan sien wat gebeur volgende. Herinner jouself dat jou kinders ’n gevoel van sekuriteit en liefde ervaar in ’n huis waar roetines konsekwent en voorspelbaar is.

  1. Toksiese stres veroorsaak skade aan die brein wat tot lewenslange probleme kan lei.

Stres is deel van die lewe (hello covid!) en om te leer hoe om dit te hanteer is belangrik vir gesonde ontwikkeling. Wanneer ons spanning ervaar berei ons liggaam ons voor deur middel van ’n fisiologiese stresrespons – ons hartklop versnel, ons bloed vloei vinniger en streshormone, soos kortisol, word vrygestel. Wanneer ’n kind stres ervaar maar steeds veilig en geborge voel in ’n liefdevolle en ondersteunende omgewing, word die fisiologiese effek van stres gebuffer en keer dit terug na normaal. So ontwikkel jou kind ‘n gesonde streshanteringsisteem. MAAR wanneer die stresrespons aanhoudend van aard is EN die kind nie toegang het tot ’n empatiese, liefdevolle volwassene wat hom veilig en geborge laat voel nie, het dit langtermyngevolge vir breinontwikkeling.

WENK: Leer om te onderskei tussen meltdowns (ineenstortings) wat deur stres veroorsaak word en tantrums (vloermoere) wat deur gedrag en manipulasie veroorsaak word. Hanteer meltdowns deur vir jou kind kans te gee om in jou arms of in ’n kalm hoekie rustig te raak voordat jy hom help om die redes vir sy meltdown te ondersoek.

Ons hoef nie te HOOP dat ons kinders se breine sal ontwikkel nie – ons kan dit VERSEKER. Ons kan vashou aan die wete dat indien ons liefdevolle en genotvolle interaksies met ons kinders het binne ’n voorspelbare omgewing, dit ’n fondasie skep vir gesonde breinontwikkeling.

Indien jy meer wil weet of ek jou kan help om dit vir jou te makliker te maak, besoek gerus www.lizanneduplessis.com en dan maak ons tyd vir ‘n digitale ouerskapskonsultasie.

Deel op
Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar