“… en toe word ek wakker.”

My Afrikaanse juffrou se goue reël was dat ons níé ‘n opstel mag eindig met  die bogenoemde sinnetjie nie …

Maar was dit nie tog nie waarvoor ons almal vir 2021 gehoop het nie? Dat COVID-19 toe al die tyd ‘n consipiracy was en Interpol op die booswigte toegeslaan het nie? Hoe nou met nuwejaarsvoornemens gemaak? Hoe beplan jy in die maalkolk van geykte woorde soos “nuwe normaal”, “pandemie” en “social distancing”? Dit IS mos ‘n nagmerrie waaruit jy net wil wakker skrik!

Ek het al so ‘n bietjie gedeel oor ons fratsongeluk in 2020, al het ons die “reëlboek vir ouers” (is daar so iets?) presies gevolg en al was ons ‘n verantwoordelike span ouers. Ek het gebreek in daardie paar oomblikke, soos fyn glas in baie klein stukkies … Dit was my nagmerrie waaruit ek wou wakker skrik, maar elke oggend daarna was die realiteit steeds daar: “Wat kon ek beter gedoen het? Hoe kon ek dit gekeer het? Hoe op aarde het dit gebeur?!” Daardie fyn stukkies glas tel ek nou weer een-vir-een op, pas dit stukkie-vir-stukkie in mekaar soos ‘n 1000-stuk legkaart in #hardlockdown en dan plak ek dit weer aan mekaar vas. Die prentjie sal dalk nie weer wees soos dit was nie, maar ek kan gelukkig goue gom gebruik – goue gom met die naam “Hoop”.

Wat ek sover geleer het, is dat hoop nie passief is nie: dit werk met jou en jy werk met hoop. Hoop is die innerlike krag om op te staan, aan te trek en die stukkies een vir een op te tel om ‘n mosaïek-kunswerk te kan maak en te kan voltooi. Hoop is die platform waarop ek kan staan van waar ek stories en getuienisse kan deel. Hoop gee vir my ‘n lang asem vir ‘n uithourit, dit troos en gee my vrede.

Bowenal is hoop nie onseker nie, maar ‘n versekering dat die son weer in sy volle glorie sal skyn – of dit môre is en of dit oor ‘n langer tyd is. Tyd is nie in ons hande nie, en so ook nie iets onaardigs soos siekte, ‘n ongeluk of ‘n pandemie nie, maar hoop is!

Mag hoop jou drome aanvuur waaruit jy nie wil wakker word nie en mag jou hoop jou drome waar maak, selfs in 2021!

Met liefde xxx

Suzanne

Deel op
Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar