EK HOOP JY WEET

Vir my is hoop soos ‘n spinnekopweb. Ragfyn, delikaat, en sag, byna onsigbaar as jy nie direk daarop fokus nie. En net soos die skoonheid van ‘n doudruppel wat glinster aan ‘n draadjie vroegoggend, is hoop ons herinnering aan die asembenemde kant van die lewe.

Spinnekopsy vang ons vrese en irritasies vas – die muskiete van die lewe voel minder relevant as ons toelaat dat dit eerder opgevang word in ‘n web van hoop.

Na die laag-op-laag van laagtepunte wat ons in 2020 beleef het, was daar ‘n deel van my wat nie myself wou toelaat om te hoop nie. Geen nuwejaarsvoornemens vir my nie – dit voel soos ‘n mors van my tyd en energie … en my siniese sy wil-wil oorgee aan hopeloosheid.

Maar spinnekopsy is ook sterk – vyf keer sterker as staal selfs, en ‘n wonderproduk wat nie onderskat kan word nie. Net so is hoop ook kragtig, sterk genoeg om jou weer op te trek wanneer jou moed en krag en geduld aan ‘n draadjie hang.

Klink dit asof ek myself probeer oortuig? Ek dink ek doen. Ek dink nie enigeen van ons kan werklik hierdie wêreld hopeloos probeer aanpak en heel aan die anderkant uitkom nie. So ek hoop maar weer, vir myself en my mense. En ek laat hoop toe om te wees wat my siel ook al nodig het, elke dag.

Hierdie woorde van Emily Dickinson praat nog altyd met my:

“Hope” is the thing with feathers –

That perches in the soul –

And sings the tune without the words –

And never stops – at all …

Emily Dickinson

My hoop vir jou vir hierdie jaar, is dat jy elke dag minstens ‘n krieseltjie hoop sal kan optower. Ek hoop jy onthou jy verdien dit!

Liefde

Juanli

Deel op
Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar