COVID KOM STEEL…

Dis Februarie 2020 – ek is fiks, ek is gesond, ek voel goed, ek lyk goed. Ek is suksesvol by die werk. Man, die lewe is n fees! Toe gebeur lockdown, ons oefen by die huis en eet gesond, probeer positief bly oor werk en ‘n lewe wat voor ons oë verander. Die oefening stop (wie wil nou die heeltyd by die huis oefen?) ag, en ek eet sommer twee ekstra koekies – dit troos my angstige siel.

Mei/Junie 2020 – OK, ek móét weer oefen. Ek skok myself in my draftekkies in en staan elke oggend in die donker en koue op om tussen 06:00 en 09:00 te gaan draf. Wie is ek?! Ek haat draf, maar uit desperaatheid doen ek dit, want ten minste voel ek beter …

Julie/Augustus 2020 – die hardloop hou op, ons eet alweer wegneem-etes, want ek het my kwota kook opgebruik in April al by die huis. My klere sit stywer, maar ek oortuig myself dat ek vinnig weer beheer sal kry. In elk geval, dit was ‘n baie hartseer en moeilike tyd vir ons familie, so ek kan nie nou omgee oor oefen en gesond eet nie.

September/Oktober 2020 – die gyms maak oop! Ek is terug in my “happy place”, maar dis net nie dieselfde nie. Dis sleg anders, en ek gaan nie elke dag soos wat ek voor Covid doelgerig gedoen het nie. Werk is ook nou weer aan die gang, dis besig en moeilik om in ‘n roetine te kom. Wat my terugstaar in die spieël breek my hart: dis nie meer die lyf wat ek ken en in gemaklik is nie.

November/Desember 2020 – dis die einde van die jaar, ek is ekstra moeg. Ek werk baie hard, dit behels heelwat vroeë oggende en laat aande. Jy gryp ‘n pakkie chips en ‘n chocolate en belowe jouself dat môre ‘n beter dag sal wees, maar dit gebeur nie, want jy het nie kapasiteit om meer te beplan nie – nie na díé jaar nie.

Januarie 2020 – vakansie! Of semi-vakansie … my drome van surf en tan lê aan flarde. Maar ons rus en eet lekker! Na die vakansie sal ek seker realiteit in die oë moet kyk.

Realiteit: Klim op die skaal en ek weeg 10 kg swaarder, ek het meer selluliet as ooit en lyk vir myself slegter as ooit. Ek is vas oortuig dat as mense my sien, hulle dink, “wow, sy het lekker gewig opgetel!”

Covid het my selfvertroue gesteel, die liefdesliggie wat geskyn het vir myself skyn deesdae bitter dof. Dit sit vas in my gedagtes en pla my elke dag. Ek is seker ek is nie die enigste een wat so voel nie? Ek voel asof ek dit nooit gaan terugkry nie, hierdie selfliefde van my.

Een ding wat ek besef, is dat ek myself grasie moet gee en geduldig moet wees met die proses. Die skade wat fisies en psigies gedoen is, gaan nie oornag reggestel word nie. Dit gaan tyd vat, en ek is OK daarmee.

Ek weet nou, selfliefde is belangrik – jy moet veg vir dit! 2021 gaan ek die jaar maak om myself en my selfliefde weer terug te kry.

Liefde Carissa

Deel op
Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar