EK HOOP JY SAL HOOP

My goeie, liewe hjiiiimmmmel … as daar nou een ding is wat ons almal in 2020 geleer het, is dit dat ons toe nou nie die wêreld kan beheer nie. And nót for a lack of trying. Wys my ‘n ma en ek wys jou ‘n vrou wat haar allerbeste probeer om haar familie se wêreld te beheer. Want so, glo ons met die heel beste van intensies, hou ons onsself, ons gesinne en geliefdes veilig. Die magtelose, hande-afgekap gevoel van die afgelope jaar sit dus geweldig ongemaklik, ook aan mý vel. En dan wil-wil ek vir myself vertel dat ek vir niks hoop in die nuwe jaar nie. Dat niémand vir niks hoop nie. Want geen verwagting is mos ook gelyk aan geen teleurstelling.

… Watse absolute onssin! Dis die ongemak wat praat – ongemak en miskien ingee tot ‘n tikkie vrees. Nou kyk, ek is baie dinge, maar vreesagtig is wraggies nie een van hulle nie. “Hoop is nie dieselfde as beheer nie, Lente” raas ek tans met myself. Die Bybel sê geloof is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Niks van dit klink vir my soos beheer nie.       

So ek sit myself in die dinkhoekie en bly stil en kyk na al die leef om my en sien hoop, ‘n vaste vertroue, ‘n bewys van wat ons nie kan sien nie, en wat ons nie kan beheer nie, in al sy glorie in die wêreld rondom my.

Hoop is:

  1. – die son wat elke oggend opkom oor hierdie veld in die Klein Karoo langs my skoonma se huis;
  2. – my dogtertjie wat nou pas sonder vlerkies begin swem het en nie vir ‘n halwe sekonde wonder of ons haar vir die 381ste keer gaan “red” nie;
  3. – die onvoorwaardelike liefde van ‘n driejarige seuntjie wat homself in jou arms in launch en jou seer squeeze;
  4. – my broer wat met blink sterre in sy oë, op die mooiste dag in die Kaap, ‘n paar weke gelede getroud is;
  5. – my vriendin wat 25 weke swanger is met haar eerste babatjie, ‘n dogtertjie;
  6. – ook my ander vriendin wie se tienerdogter haar eerste liefde en ook eerste soen hierdie vakansie gehad het;
  7. – die krag in my arms en bene en longe waaroor ek nooit eers dink nie;
  8. – reën wat verligting bring vir ‘n warm en dors aarde;
  9. – tweede kanse;
  10. – vergifnis;
  11. – genade;
  12. – deernis;
  13. – om jou man te laat Settlers wen ?

Hoop is deel van ons wese. Soms voel ons dit nie, dis waar, en soms is ons gedagtes ongedissiplineerd donker of hoop ons net op die dinge wat ons ook self kan beheer. Maar hoop is onlosmaaklik wie ons is.

So as jy miskien ook ‘n bietjie hopeloos voel so aan die begin van hierdie jaar, sit stil en kyk, gaan stap iewers in die natuur en kyk, en kyk en kyk en kyk en jy sal hoop vind in die kleinste en grootste dingetjies, reg rondom jou en onder jou neus. Ja, die wêreld is deurmekaar en onseker, maar reg in die middel van dit, skyn hoop en hou die wêreld aan om te draai. Dalk is dit juis die een ding wat ons wel kan beheer – ons aktiewe keuse om hoop aspris te gaan soek en raak te sien en toe te laat om weer helder in ons harte ook te skyn.

My hoop vir 2021 … is dat ons sal aanhou hoop!

Liefde

Lente

Deel op
Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar