DANKIE TOG … VIR TEKKIES!

Ek het onlangs op ‘n heel onopwindende oggend tot ‘n besef gekom – dankie tog vir tekkies.

Ja, tekkies. Die tipe wat jou voete beskerm, gesien word as ‘n fashion statement, en dies meer – dáái tekkies.

Laasweek het ek besef dat skoene soveel meer kan beteken; maar ek hardloop (letterlik) nou weg met die storie.

Albert word in Februarie 3, en soos meeste mense met kinders van daardie ouderdom besef hulle, én jy, die kleine lyfies word bitterlik vinnig onafhanklik, en wil alles nou self doen. Wat in meeste gevalle wonderlik is! Maar hierdie oggend, not so much.

Albert is besig met die gevreesde potty-training, en dit gaan meestal goed. Meestal.

Maar hierdie oggend, net met ‘n slaapbroekie aan, RUIK ons vir Albert vóór ons hom sien. Die logiese ding vir ‘n driejarige is om te sê: “Mamma, lós MY poef uit”. (Ja, daardie woord, die een wat ek nooit kon glo mense so baie sê nie. Die POEF-woord. Ek gril soos ek tik … )

Anyways, inderhaas in die gang op pad badkamer toe, met Albert se eiewilligheid, TRAP ek daarin … LETTERLIK! Niemand berei jou voor vir sulke insidente nie.

Eugene, groen in die gesig, hardloop so ver weg as wat hy kan (as ons naby berge gebly het, sou hy soontoe hardloop); ons oudste is net te nuuskierig oor die bohaai terwyl hy toekyk. Ek dink as ons nog ‘n huistelefoon gehad het, sou die ding seker ook op daardie oomblik gelui het …

Absolute chaos, en dit gebeur alles voor skool! So ‘n paar uur later (of die laaaaangste minute as ouer) is Albert skoon en aangetrek; relatiewe rustigheid in die huis, en daar sit en kyk hulle vir my … My arme, arme tekkies. Lyk amper asof hulle my ‘n vuil kyk gee. (Ek voel vir julle, arme tekkies. Dit was ook nie my plan vir die oggend nie.)

So uit die aard van die saak loop ek nou konstant met skoene in die huis rond; die risiko is duidelik te groot. En ek is doodeerlik as ek sê: Ek’s dankbaar vir tekkies.

Deel op
Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar