VAGINALE GEBOORTE OF ‘N KEISERSNIT – WAT IS BETER VIR SEKS?

“Tannie, het jy jou baba uitgesny of het jy gedruk?” “Ek gaan ook nie druk nie, Tannie, ek hoor dis baie seer!” – Heymarie, 8 jaar oud.

Ons verwagtinge van die geboorteproses word verbasend vroeg gevorm!  Die feit dat ‘n keisersnit binne ons verswysingsraamwerk is, is meestal omdat ons in Suid-Afrika bly – ‘n land wat bekend is daarvoor dat ons heeltemal “te veel” keisersnitte per capita uitvoer (veral in privaat gesondheidsorg).  In ander lande is dit normale vaginale geboorte, tensy daar buitengewone omstandighede is. Vroue het nie ‘n keuse nie.

Keuses bring uitdagings! Wat gaan die beste wees?  Vir my? Vir die baba? Vir my sekslewe?  Vir droë panties later in my lewe?  Wat wil my man hê? Wat is die gemaklikste? Wat is die minste seer? Wat verwag ander mense van my?  Daar is ‘n klomp dinge wat op die ou einde jou keuse beïnvloed.  My raad is: Moet jouself nie laat voorsê nie! Volg jou hart … (tensy daar natuurlik ‘n mediese rede is).

Mense kom vra my dikwels raad oor wat die beste vir hulle sekslewe sal wees.

Hierdie jaar is daar ‘n studie gepubliseer wat vir ons ‘n paar interessante feite gegee het:

Maak nie saak of jy ‘n keisersnit gehad het of “normaal” gekraam het nie:
– Teen drie maande post-partum is min mense weer hulle ou seksuele self, maar die studie het ook gevind dat vroue se seksuele funksie teen maand ses nog steeds beduidend laer is.
– Een jaar na die geboorte het amper almal weer normale seksuele funksie.

Baie interessant was dat vroue wat negatiewe verwagtinge van borsvoeding gehad het, ‘n hoër risiko vir seksuele probleme gehad het.  Dit was die enigste kenmerk wat hulle kon vind wat seksuele funskie op twaalf maande beïnvloed.

Die punt is: Of jy verkies om normaal te kraam of ‘n keisersnit te kry, teen een jaar na die geboorte, behoort jou sekslewe weer soos voorheen te wees.

Dit klink na goeie nuus.  Daar is egter twee dinge om in gedagte te hou:
– ‘n Jaar is n baie lang tyd.  As jou verhouding dit toelaat dat jy kan rustig wees daaroor – vat jou tyd.  As jou seksuele uitdagings egter druk op jou verhouding plaas, kom kry so vining as moontlik hulp. Jy hoef nie noodwendig ‘n jaar lank te wag nie.
– Vir baie vroue was seks voor die swangerskap reeds nie aangenaam nie.  Hulle het toe reeds geen libido gehad nie, kon nie seksueel opgewek word nie, ‘n orgasme bereik nie of het dalk pyn tydens seks gehad.  As dit die geval is, is daar geen rede om te wag tot op ‘n jaar voordat jy kom aanklop vir hulp nie.

Dr Elna Rudolph (http://drelnarudolph.com/)
Kliniese Hoof van My Sexual Health https://mysexualhealth.co.za/

Vir ‘n span gesondheidswerkers wat kan help met seksuele probleme: https://mysexualhealth.co.za/about-us/

Verwysing:
Spaich S, Link G, Alvarez SO, et al. Influence of Peripartum Expectations, Mode of Delivery, and Perineal Injury on Women’s Postpartum Sexuality. J Sex Med 2020;17:1312–1325.
Deel op
Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar