THE FAST AND THE FURIOUS

Daar sit ek en manlief in die kar. Dis spitsverkeer op ‘n Woensdagmiddag en Manlief is onseker oor watter afdraai om te neem. Gewoonlik is dit iets wat glad nie ‘n probleem is nie, maar tans sit ek hoogswanger met ‘n ronde maag op 37 weke, en ervaar een %$#@&* kontraksie … En EK is die een wat moet directions gee … ?

“DIS DÍÉ AFDRAAAAAAI!!!”, tussen geknersde tande, terwyl ek my beste probeer om nie die arme man se kop af te byt nie.

Hier sit ons. The Fast and the Furious! Julle kan self besluit wie watter een in die scenario is …

Vroeër die dag was die moontlike opwagting van ons seuntjie die laaste ding in my gedagtes. Pappa was by die werk, want dit was MOS meer as ‘n week voor die keiser. MÓS …

Daardie MOS het baie vining in MOES verander. Nou MOES ek kalm bly; seker maak alles is gepak, ouers bel en kontraksies begin ‘time’…

Ek is tot vandag toe nie seker hoe manlief so vinnig by die huis aangekom het nie. In ‘n bakkie nogal.

Dis nou SULKE tyd: A journey of a lifetime.

Aangekom by die hospitaal ná die regte afdraai, was dit net dokters en verpleegsters en toe: ‘n Piepklein bondeltjie in my arms. Perfek in elke opsig.

Wie sou OOIT kon raai dat so ‘n groot maag so ‘n klein lyfie sou huisves?

Ek weet baie mense sê ‘love at first sight’, maar dis eintlik ‘n emosie wat nie met woorde vasgevang kan word nie. Ek sukkel steeds daarmee. Tyd was te vinnig en te stadig op dieselfde tyd. ‘n Oomblik vasgevries. Een wat ek vir jare sal koester!

So ‘n paar dae later: ‘n Spiksplinternuwe familie in dieselfde bakkie, nou à la Driving Miss Daisy, om ons journey as gesin te begin. Híérdie was die regte afdraai.

Deel op
Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar