GOED-GENOEG OUERSKAP

Ma-wees was nog altyd my droom. En dit was toe ook die belangrikste reis wat ek al ooit op was. Maar, o wee, dit was ook die uitdagendste en mees veeleisende ervaring ooit!

Om ʼn ma te word, het my wêreld geruk. Dit het alles omvergewerp wat ek geweet het, of ten minste alles wat ek gedink het ek weet, onderstebo gekeer. Ek het nooit verwag dat dit so maklik én so moeilik sou wees nie – alles op dieselfde tyd.

My persoonlike ouerskapsreis sluit jare van onvrugbaarheidsbehandeling in, dan twee uiters moeilik swangerskappe, ‘n vroeggebore baba, ‘n koliekbaba, en om twee kleuters in drie lande groot te maak vir dertien jaar terwyl ons in nege verskillende huureiendomme gewoon het.

Ouerskap word dikwels aangebied as ‘n vaardigheid wat veronderstel is om natuurlik, instinktief te kom. Ons is gemaak om te glo dat sodra ons ‘n moeder word, ons moedersinstink sal inskop en, asof deur towery, ons onmiddellik sal weet hoe om ʼn ouer te wees. Maar ons weet natuurlik almal nou dat dit nie waar is nie. (Koesterskok is die term wat gebruik word om die paniek te beskryf wat algemeen onder nuwe ouers voorkom wanneer hulle besef dat die mitiese fontein van ouerskapskennis nie sommer-so vanself begin vloei nie.)

Dit het my jare geneem om die konsep te begryp dat dit nie moontlik is om alles te weet,  onvoorwaardelik lief te hê én ‘n verstandige ouer te wees nie (nie eers al is jy ‘n opgeleide arbeidsterapeut, iemand wat ouerskapsboeke verslind, en wie al duisende kinders en ouers gehelp het nie).

Daar sal tye wees wanneer dinge onvermydelik  deurmekaar raak, wanneer ek die handdoek wil ingooi en my bekommer oor wat ek verder moet doen. In hierdie tye wend ek my tot die wetenskap. En wat navorsing ons vertel, is dat wat die meeste van ons voel tog nie eintlik so abnormaal is nie.

Daar is twee belangrike bydraende faktore wat verhoed dat ons hierdie ouerskapsreis ten volle omarm en geniet. Die eerste een is die feit dat ouerskap geen waarborge het nie. Daar is baie aspekte rondom ons kinders en ouerskap wat buite ons beheer is. Maak nie saak hoeveel jy lees of doen, of streef daarna om ‘n optimale omgewing te skep nie, daar is geen waarborg dat jou kind in die nag sal slaap, of sit, kruip of loop wanneer hy veronderstel is nie. Ook nie dat hulle die perfekte kinders sal wees wat ons wil hê hulle moet wees nie. Selfs in ons sogenaamde “mikrogolf-” of “kits-oplossingkultuur” staan die feit steeds: Ons kan nie elke aspek van ons kind se wese voorspel en beheer nie.

‘n Ander bydraer wat ons vreugde steel en ons weerloos laat voel, is die verskynsel van ons strewe na perfekte ouerskap. Ons wil die perfekte ouer wees en die perfekte kind grootmaak. Dit word ‘n vreesgedrewe kompetisie wat gemeet word aan prestasie eerder as om net te wees.

Die meeste van ons wil graag die beste ma wees wat ons kan wees. Dit is nie die strewe na volmaaktheid per se nie. Die probleem ontstaan ​​as daar nie ruimte is vir foute, mislukkings, of om toe te gee dat jy hulp nodig het nie.

Laat ons mekaar dus volgende keer  herinner: Daar is geen waarborge nie. En om ‘n goed-genoeg ma te wees, is goed genoeg!

Uit hierdie waarhede is Intentional Parenting / Doelgerigte Ouerskap gebore. Hoop ons sien jou binnekort @doelgerigteouerskap en www.lizanneduplessis.com.

Liefde

Lizanne

Deel op
Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar