GEBOORTE (as ‘n proses) ~

Ek ken die stappe en fases van die geboorteproses góéd – as ma en as dokter. Ek weet hoe dit lyk as dit mooi gaan, maar ook as dinge begin “Suid” gaan. (Pun intended)! En dít het my laat dink aan geboorte as ‘n proses en die metafoor wat daarin skuil …  

Kyk, as jy nou wil hê dinge moet gou skeefloop, moet jy dit te veel probeer beheer. Dit geld vir baie (en meeste) dinge in die lewe. As jy ‘n eerste-keer-mamma gaan induseer en probeer om die kraam tot op die minuut te beheer, kan jy maar weet dit gaan 9 uit 10 keer uitloop op ‘n keiser. As jy probeer beheer, mis jy die waarde van die proses.

Dis die beeldskone metafoor van spasie gee vir die proses: ons wil só graag beheer hê en presies weet wat die uiteinde gaan wees, dat ons totaal en al die reis van ontdekking, leer en groei miskyk. Dieselfde geld vir die kreatiewe proses – dis die grootste lekkerte om ‘n droom te sien ontwikkel tot ‘n realiteit.

Vir die afgelope 3 maande skaaf ek en ‘n vriendin aan ‘n jaarbeplanner. Ons gee spasie vir afdraaipaaie, foute en selfs idees wat dalk uitgegooi sal word. En dis juis die afdraaipaaie en foute wat ons lei tot by die suiwerste eindproduk.

Die geboortepyne en groeipyne is nodig. Elkeen het sy doel. Dit skaaf en versterk en verfyn tot by ‘n prag-eindstuk.

En op die ou end besef ek opnuut:
Die proses gee waarde aan die bestemming.

Liefde,
Barbara
Deel op
Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar