SELFVERTROUE

“Nothing can dim the light that shines from within.” – Maya Angelou

Een van my gunstelingdele van my “dayjob”, is dat ek ‘n kursus aanbied in selfvertroue en aanbiedingsvaardighede. Ek het die inhoud ontwikkel vir die kursusgangers, natuurlik, maar elke keer as ons dit doen, práát dit met my ook.

Dis ongelooflike “powerful stuff” om te sien hoe ‘n eens dowwe liggie skielik in iemand se oë helder begin skyn – hoe mense se aanvanklike persepsies van hulself plek maak vir inspirasie en ‘n nuwe vlak van selfvertroue.

In elke kursus, is daar altyd een oomblik waar ek dit voor my oë sien afspeel, duidelik soos daglig. Dis gewoonlik ‘n vrou. Sy begin gewoonlik die dag skamerig voor die ander (hulle moet opstaan en praat deurentyd, en verbeter met elke geleentheid). Soos sy praat, kan ek sien sy hou terug – praat sagter, maak nie sterk oogkontak nie, maak self-deprecating stellings oor haarself (soos dat sy “net So-en-so se ma” of “Pieter se vrou” of “net maar iets” is. Haar woorde is beperkend. Haar liggaamstaal wys dit duidelik.

Iewers langs die pad het ‘n ouer dalk vir haar gesê sy praat te hard. Dalk is sy op skool geleer dat “dames nie oopmond lag nie” of dat dit ongeskik is om hardop jou opinie te lig. Dalk het sy net nog nie besef dat selfvertroue nie op ‘n skinkbord aangebied kan word nie – en dat elkeen die reg het om dit vir haarself toe te eien.

Die ding is, ons bly in ‘n samelewing waar ons van kleins af gekondisioneer word om ons persepsies van onsself te vorm volgens die opinies van ander mense. So wanneer daardie opinies dalk nie altyd opbouend is nie, is dit moeilik om dit te ignoreer en ons eie waarde binne-in onsself te vind. Maar dis presies wat dit verg om werklik selfvertroue te kweek.

Selfvertroue word nie gegee, verdien of toegelaat nie. Ek kan aan minstens ‘n dosyn redes dink hoekom ek vandag níé soos my beste self voel nie (of selfs myself toelaat om te wonder of my beste self ooit goed genoeg is), maar wat en wie help dit? Ek verdien my eie liefde, genade en respek! En dis daar waar werklike selfvertroue begin.

“Self-confidence is an outward expression of an innermost feeling.”

Selfvertroue kan genadiglik ontwikkel word. Die regte klere, grimering of voorbereiding (in die geval van ‘n aanbieding) kan help om dit uit te bou, as jy wil, en daar is heelwat wenke om daaroor te gee (in my volgende artikel hieroor, byvoorbeeld … ) maar dit begin by ‘n keuse:

Wanneer jy in die oggend naak voor jou badkamerspieël staan – daar waar niemand anders hulle opinies oor jou waarde kan lig nie – kan jy self kies wat jy glo. Jy kan ‘n leeftyd van ander se woorde toelaat om met jou hart te praat, of jy kan jou eie binnestem laat resoneer.

Jy is waardig om ‘n stem en opinie en sitplek by elke tafel te hê, Naguil. Jy’s tot soveel meer in staat as die grense wat enigiemand anders op jou kan plaas. Diep binne-in jou, wéét jy dit reeds.

Kyk jouself gereeld in die oë, en roep haar na vore. Basuin dit uit! Die wêreld het meer vroue nodig wat hulself toelaat om in sekerheid te skitter – let that light shine!

Liefde

Juanli

Deel op
Deel op
Deel op

1 thought on “SELFVERTROUE”

  1. Het so nodig gehad vandag om te Lee’s day ek my self moet toelaat on te skyn en dat ek nie myself moet wonderful oor mense se opinies oor my nie want dis after all nie wat mense dink nie maar wie ek myself toelaat om te begin wees .Dankie Juanli vir hierdie kosbaar woorde wat ek sooo nodig gehad het !!!!!

Lewer Kommentaar