WANT EK HET VOETE

Ek speel-kielie-terg vir Fleur terwyl sy op my skoot sit, agter in my skoonpa se Ford Fairlane 1971 – die een met die rooi leer sitplekke.
“Is jy ‘n japsnoet?” vra ek.
“Neeeeeee!” kom die borrellaggie.
“Is. jy. ‘n. aapstert?” “Neeeeee!” lag sy en ek soen haar in haar nek.
Kosbare oomblikke in die middel van ‘n doodgewone dag.  

Ons spring uit by Spar vir melk en stap oor die pad, haar handjie in myne.
“Is jy seker jy’s nie ‘n karnallie nie?” speel ek verder.
“Jaaa, Mamma! Ek is ‘n dogtertjie.”
“Wat? ‘n Dogtertjie?! En hoe weet jy dit nogals?”
“Want ek het voete,” kom die antwoord klokhelder, vol selfvertroue, voordiehandliggend.  

Haar lang hare, die rokkie aan haar lyfie, en pienk-hartjie-alice band op haar kop, is duidelik nie wat haar definieër, in haar opinie, as ‘n dogtertjie nie.
Dis haar voete.
Tans ‘n kleuter nr 9 grootte, stewig geplant op die aarde, die goeters wat haar op ‘n klouterraam laat klim en wat die wêreld gaan plattrap in verkenning … dís wat van haar ‘n dogtertjie maak.  

Soos altyd: Soveel wysheid en soveel om te leer by my kleuter voshaarnooi!
Ek staan in die ry en kyk na my eie voete. Knobbelrig van jare se ballet, ‘n snylitteken van bunions verwyder – darem tans mooi geverfde toonnaels, phew! Ek dink aan die paadjie wat ons al gestap het, ek en hierdie voete. Die dinge wat ons kon sien en voel. Die kere wat ek my tone gestamp het. Die plekke waar ek gestaan het. Die grondgebied verower. Die mense wat op my gegroei het. Die spasie wat ek vul. Dít is wat my vrou maak, wat my definieer en kleur aan my identiteit gee.
Jy’s reg, my skat. Dis ons voete wat ons dogtertjies maak.  

Kaalvoet in die kombuis … as ‘n Michelen-chef dalk, ja. Op ‘n sportveld, op ‘n verhoog, op ‘n korporatiewe leer. Eendag miskien wiegend aan ‘n babatjie. Maar veral: dinge om te doen en plekke om te gaan – die wêreld verower aan jou voete.  

Aan elke vrou en dogtertjie daar buite: Mag jou voete vêr loop. En onverwagte afdraaipaadjies vind. Mag jy hoogtes uitklim en in koel klowe rus.
Dra jou rooi hakskoene en verf jou tone, laat die gras jou voete kielie en soen iemand terwyl jy op die punte van jou tone staan om by te kom.
Mag jou voete verdwaal in vreemde stede en só die wêreld, en in die proses jouself, as merkwaardig ontdek.  
Waar het jóú voete al geloop wat van jou die vrou maak wat jy vandag is?  

Deel die artikel

Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar

Nuusbriewe