VROU

Ek maak my oë toe in ‘n stil hoekie van ons tuin. Ek trek my longe vol lug en voel hoe my hart sowaar steeds klop. Ek dink aan die jaar wat ons gehad het, die uitdagings wat voor ons elkeen se deur kom lê het. Ek sien die vroue rondom my wat moeg is, bekommerd en verslae met donker kringe onder hulle oë na die wêreld kyk. Ek sien trane wat al lankal koud geword het, op wange wat deesdae minder lag. Ek sien skouers wat krom trek van ‘n onsigbare gewig, soos moedeloosheid neersak en die lig grys word. Ek sien drome wat eindig, en energie en planne wat tot niks kom en weg waai in die skemer niet. Ek sien sukkelende, stukkende siele, soos spoke sweef, soekend …

Ek is kwaad. Ek rou en ek treur, totaal magteloos om enigiets aan die swaarkry in die middel van die vernietigende vuur te doen. En ek is bang, want die liggies agter oë begin verdof.

Maar dan sien ek haar staan: Kaal en broos, gestroop van idees oor haarself en haar veilige maskers. Skoongebrand van die plakkers en die modder en die kettings en die boksies waarmee die wêreld haar klein gemaak het. ‘n Reus in haar kwesbaarheid, wat met haar hande op haar heupe en die stormwind in haar hare die lewe uitdaag. Vonkelwyn in haar oë, voete geplant, rondings sag. Asemrowend. Gevaarlik. Bo op ‘n berg gebou deur elke vrou wat voor haar gestap het, sodat sy vêr kan kyk. Sy is nuwe lewe. Sy is hoop. Sy is warmte en stille vrede. Sy is Somer en sout-van-die-aarde, ontembaar en woes en wild. Deel van die kroon van die Skepping, haar oorspronklike ontwerp: God wat wou spog.

Sy is jy.

Sy is elke vrou – opgemaak uit al die stukkies van al die vroue wat voor haar gekom het – en sy gaan stukkies van haarself agterlaat in die wat na haar kom. Sy is as gevolg van al die ma’s op haar paadjie wat haar ge-”mother” het, die susters wat langs haar staan en saam met haar veg, haar kinders wat sy in haar lyf of haar hart gedra het en nou om haar voete speel, veilig in die skaduwee van wie sy is, wat vêr strek om almal in te nooi.

Sy is jy.

En sy is ek. Ek sien haar brute krag skyn deur die donkerste nag en die swaarkry rondom my. Elke nuwe plan, elke weer-probeer, elke brawe glimlag, elke vindingryke oplossing en warm koestering. Elke keuse om sag te bly, elke keuse om jou hart te wys, elke keuse om jou hand uit te strek en iemand op te help. Elke klein flikkering van hoop.

Sy is ons. En óns is die KRAGTIGSTE ding in die hele wêreld: Nuwe lewe.

Kom ons wys haar vir ‘n wêreld wat honger is vir haar stille somerson. Kom ons gee vir mekaar toestemming om haar te wees. Kom ons sing vir haar en roep haar uit. Kom ons leer ons dogters hoe om haar in hulself te vind, presies soos God hulle gemaak het: met lewe wat vibreer tot in die punte van hulle hare.

Dit is Vrouemaand. Vier gerus die besonderse vroue wat voor jou en langs jou en agter jou staan deur hierdie met hulle te deel.

Liefde

Die Naguilklub

Lente, Suzanne en Juanli

Deel die artikel

Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar