OM DOGTERTJIES GROOT TE MAAK

“Waarvan word dogtertjies gemaak?
Suiker en kruitjies
Lipstiek en kantjies … ”

Wie onthou daai gediggie? Alles pienk en strikkies en fluffy. In 2020 lyk en is die wêreld anders …

Van kleins af het ek al die Mej-titels saam met my ma gekyk: Mej Suid-Afrika, Mej Wêreld, Mej Heelal. Die Suid-Amerikaanse vroue was toe gewoonlik die wenners: Venezuela, Puerto Rico, Colombia … Tog het my 21-jarige self teen die Cosmo, Glamour en ander sogenaamde mode-tydskrifte begin skop as gevolg van ‘n sekere verwagting van hoe almal moet lyk, dink, eet en praat.

Daar was nie juis spasie vir variasie nie en Sophie Dahl was toe die enigste beroemde plus-grootte model (totdat sy ook later gewig verloor het). Kate Moss se “Nothing tastes like skinny feels” het die wêreld in rep en roer gehad, maar sy was die influencer van haar tyd …

Gelukkig het oopkopvroue soos Marciel Hopkins en Zozibini Tunzi dit juis op “stereotipe” platforms soos Mej SA en Mej Heelal kom verander. Hulle het deur die “mould” gebreek met kurwes en kort-kort hare, en iets anders vir die wêreld kom bied. Iets vars. Iets nuuts. Iets eg. Iets eie net aan hulle!

Katherine Young, ‘n grafiese ontwerper, het die voorblad van Girls’ Life aangepas juis om hierdie aan te spreek. Niemand moet of hoef in die wêreld se verwagting van ‘n mould te pas nie. Ons sterkte lê juis in ons verskille!

En dit is ook wat waar is vir ons dogtertjies: Een is ernstig, die ander het ‘n vry gees. Een het bruin oë, die ander een groen. Een is ‘n introvert, die ander ‘n ekstrovert. Een speel soms met goggas, die ander een gril vir goggas. Elkeen het haar unieke identiteit gekry om haar unieke doel op aarde uit te leef. Dis amper soos die Koningin se seëlring: Dis net hare.

Artikels en gesprekke oor die volgende “gewigsverliesmetode”, of om van ander te skinder, neem onnodige tyd en energie op waar ons eintlik langs Kamala Harris, Jacinda Arden, Oprah, Ellen, Malala en die volgende VN-ambassadeur kon sit en die wêreld ‘n beter plek kan maak.

Ons dogtertjies is deel van Generation Alpha. Alpha. Die begin. Mag die dae van stereotipes, onrealistiese verwagtinge en spookasem-artikels vir altyd verby wees en mag hulle begin om nuwes te skryf.

“As for our girls, we will raise them to think they breathe fire”

Jessica Kirkland (aangepas)

Deel die artikel

Deel op
Deel op

Nuusbriewe