SKULDIG

“Slaap net!”, skree ek gefrustreerd. Ek stroop jou van my lyf af, maak jou handjies om my nek los, maak my ore doof vir jou sagte huilsmeek wat my wíl om te bly.
“Nee, nee, nee!”, raas ek. My maag grom honger. Moegheid sak soos ‘n swaar kombers op my skouers neer.

Leë arms in die kombuis vang my oog ‘n foto van ons op die yskas. Jy kyk na my asof die wêreld by my begin en eindig. Jou ogies vol verwondering vir die “heel beste mamma op aarde”. Hoe wens ek, ek kan wees wie jy hier sien! Ek’t weer gefaal vandag.

Ek hardloop terug na jou toe, staar na jou gesiggie in die lig van die gang wat by die oop deur instroom. Jou lang wimpers is nog nat van die trane en jou hare staan donsies na die bad. Jy is klein en weerloos. Só afhanklik, só vol vertroue, só absoluut perfek. ‘n Snik skeur deur jou slapende lyfie.

Het ek jou genoeg geniet vandag?
Het ek jou ingedrink sodat ek jou reuk vir altyd sal onthou?
Het ek vir jou gegee wat jy nodig het?
Het ek genoeg met jou gespeel? Of was ek net kwaai en versigtig?
Het ek jou laat droom? Jou verbeelding laat vlieg?
Is jou hart nog heel?
Is jou gees nog ongebroke?
Is jou ogies nog vol nuuskierige vrae?

“Beskerm asseblief hierdie kind se hart, en siel en gees, Here … ook, selfs verál, van my.”

Want soms is ek net so ongelooflik moeg, leeg, met niks oor om te gee nie.

Soms is ek bang. Bang ek verloor myself wanneer die dae begin ‘blur’ en ek nie weet waar ek eindig en jy begin nie. Vreesagtig vir alles wat kan verkeerd gaan. Angstig ek gaan nie sterk genoeg wees nie, soos ek daagliks die gewig van moederskap voel swaarder word.

Soms raak ek verlore. Opgesweep in eie lig en donker, in my bagasie wat ek hoop jy nie eendag hoef te dra nie. In my eie stukkend wat ek werk om gesond te maak, sodat ek ook eendag vir jou die pad kan wys hoe, “when life happens”.

Maar altyd, móét jy weet my kind, soek my hart joune bo alles.

Môre gaan ek beter wees, belowe ek myself.
“Môre gaan ek beter wees”, fluister ek vir jou in die donker in.
Môre gaan ek beter wees, bid ek myself aan die slaap.

Lente

Deel die artikel

Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar

Nuusbriewe