TROTS VANG HAAR BAAS

Soos ‘n dief in die nag het dit my bekruip. So reg uit die pikdonker nag het my oë skrefies getrek toe ek helder lig sien …

***
Klaradyn word nie beter nie. Ons is van Dinsdag af in die pediatriese saal. Dis al Paassondag. Sy’s 7 maande oud; bronchiolitis. Ek het skaars 10 ure in 5 dae geslaap – sy wil nie lê nie, so ons is soos ‘n siamese tweeling.

‘n Nuwe radioloog stel ‘n sonar voor, maar op pad kap Klaradyn se drip-houer teen die hoek van die muur en ruk haar drip los uit haar arm … Ek skree-grom soos ‘n leeuwyfie. Sy skreeu-huil. Sy diagnose: ‘n abses wat op haar lugweg druk (dit kom gewoonlik eers voor by kleintjies van ‘n jaar en ouer). Teen dié tyd drink Klaradyn skaars en hang sy sommer so pap oor my skouer.

Onseker oor die diagnose gegewe haar ouderdom, moet ons dik, wit vloeistof vir haar inwurg vir ‘n barium-skandering. Die toetse kom terug en ‘n student-verpleegster reken “hulle kan iets sien wat moontlik kanker kan wees”. Ek verloor dit in my moegheid. “Kanker! Is jy ‘n dokter?! Hoe kan jy so iets vir my sê?” ( … In haar verstarde oë besef ek sy leer nog.)

‘n MRI met sedasie volg. Haar saturasie (suurstofvlakke) val na onder 70 en ons moet haar wakkerskud en -klap. (Toe ek langs my kyk, lê die resus-bordjie langs ons. Ek fokus net om haar wakker te hou en kalm te kry.)

Teater Paassondagaand is nie grappies nie en 20 ml se gif word gedreineer.

En dan, genadiglik: Sy’s OK, so ek is OK.

***
‘n Maand of twee later, na pypies, val Klaradyn se saturasie weer terwyl sy nog herstel. Sy’t ook koors. Die volgende oomblik is ons in ‘n luiende ambulans op pad van een hospitaal na die ander. Ek sit bo-op die dun plankbedjie met my eerste babatjie op my skoot. Die paramedikus jaag die ambulansdrywer aan. Ek fokus net om diep in haar ogies te kyk en haar kalm te hou.
(Boca. Rhino. Adeno. Die hele dieretuin, vieslike virusse. Ons is weer in die hospitaal vir nog 3 dae.)

Uiteindelik is sy OK, so ek is OK.

***
Ons sit uiteindelik by Dulce’s Cafe. Babatjie nommer twee en hier gaan ons alweer. Ek smag na ‘n sterk koppie koffie nadat Nina-Maria se hartoperasie uiteindelik kon begin. Honger is ek glad nie – ek sit net en dink. Die vertraging was lank. Hoe hou jy ‘n baba van 10 maande rustig sonder melk of kossies van 10:00 die vorige aand tot 11:00 die oggend … ? Sy’t later sommer so pap oor my skouer gehang. Ek het dit al beleef.

Op pad hospitaal toe gisteraand het ek “It is well” van Bethel Music kliphard geluister …
“And this mountain that’s in front of me
Will be thrown into the midst of the sea …
So let go my soul and trust in Him
The waves and wind still know His name”

Die operasie was om haar PDA (‘n gaatjie in haar hart) mooi toe te maak. Ons het gespook om haar net by 7kg te kry vir vandag. Ons het kennis met die Harthospitaal in Pretoria gemaak. Sy’s op drie weke in Kloof se ICU gediagnoseer.

‘n Paar minute na die operasie begin het, wil ek instinktief terug na die wagarea voor die teater. Die volgende oomblik bars die teaterdeure oop met ‘n span wat êrens met Nina-Maria hardloop. Iemand verduidelik vir ons: Die “gaatjie” is nie 3mm maar 10mm. Gelukkig het hul ‘n prostese in teater gehad. Nou moet hul met behulp van ‘n MRI bepaal of die prostese die bloedtoevoer van die aorta belemmer. As dit die geval is, is ope-hartsjirurgie volgende.

Die verhoog se ligte doof uit met die kollig op ons en haar skrander lyfie. My kop lê swaar op Wynand se skouer, nes Nina-Maria s’n vanoggend op myne. My hart voel soos lood. Die silwer stoele is koud en kliphard – geen sagte landing nie. Ek het nie woorde om te bid nie, die Heilige Gees tree in. Is dit waarvan Paulus gepraat het?! Die wag vir nuus voel langer as die oggend se vertraging.

Hulle kom terug: Dit lyk goed. Sy’s “out of the woods”.

Ek implode na binne. Saggies, soos poeier.

Maar sy’s OK, so ek is OK.

**
Ek skarrel om my handsak en laptop te kry. “O, genade! Ek moet nog die kleintjies se hare kam!” Ek’s reeds laat vir werk …

My foon lui. Dit is my pa en ek’s geïrriteerd. Dis net na 07:00 die oggend.

“Sussie, waar is jy?”
“Nog by die huis, Pappa. Martha het ‘n begrafnis, so ons is ‘n bietjie later vanoggend by die …”
“So jy’s nog by die huis?”
“Ja, Pappa. Wynand is ook nog hier. Hoekom? Is … Is alles OK?” (Ek het daardie toon van sy stem van tevore al gehoor …)
“Sussie, Mammatjie is nie meer met ons nie. Sy’s vanoggend huis toe … ”

Ek implode.

**
Twee dae na my ma se dood is my pa met galstene opgeneem. Ek sit die Sondagmiddag langs sy hospitaalbed ná sy gastroskopie en tik my ma se gedenkdiensbrief vir die volgende dag …

Surrealisties. Is dit ‘n fliek? ‘n Siek grap?
Dit is ‘n pikswart Sondagmiddag.

**
By die gedenkdiens speel “It is well” in die kerk. Dit was my ma se woorde telkens aan ons en ook haar laaste Whatsapp-status. Haar organe het skielik net meegegee. Maar “It is well with her soul” …

***
Ek was nie meer OK nie.

Met my ma se afsterwe in Augustus verlede jaar en my pa se opname in die hospitaal ‘n paar dae daarna, het die angstigheid van ons NICU/ICU-ervaringe omgeskakel in simptome van PTSD. Ek het dit nie verlede jaar raakgesien nie … Ek wou net oorleef tot Desembervakansie.

Die ironie? Ek was so donners trots dat ek nie nageboortedepressie gehad het te midde van NICU en alles daarna nie. Ek was so trots dat ek nie ‘n pilletjie nodig gehad het om een of ander sluier te lig nie. Watse sluier? Ek was dan in beheer! Ek het my angs misgekyk, want my dogtertjie(s) was OK, so ek was OK.

Die angs was amper soos “hyper-alertness”, ‘n gevoel dat ek soms van ‘n slagveld af terugkeer – te veel mense of geraas was, en is soms steeds, te veel vir my. Solank ek net alles rondom my dogtertjies kan kontroleer en beheer sal hulle (en ek) OK wees … of so het ek gedink.

Trots het haar baas gevang.

Vandag weet ek: elke ouer het ‘n mental load. Te veel is te veel. Elke trauma kan jou onmoontlik nie onaangeraak laat nie. Jy is NIE outomaties OK net omdat jou baba nou weer OK is nie. Jy is net OK as jou geestesgesondheid regtig gesond is.

Dit is doodnormaal om gevolge te ervaar na traumatiese gebeure. Jy’s nie mal nie. Jy’s nie ‘n slegte ma nie.

Maar weet dit: dit is nie net soldate in Irak wat ‘n slagveld beleef nie. Ouerskap en die lewe kan ook soms ‘n oorlogsone wees!

En dit is die hoofrede hoekom ek hierdie moes skryf: Liewe Naguil, moenie te trots wees om te erken as jy eintlik buitengewoon angstig (of in ander gevalle depressief / “af”) voel nie. Soos ‘n verkoue wat omskakel na longontsteking, kan iets soos angstigheid met addisionele trauma meer ernstig raak.

En die grootste leuen vir my? “Time heals”. Time does NOT always heal – soms hoop dit net op.
In die woorde van my wyse niggie, Erika: ek moes uiteindelik beheer verloor om gesond te word.

****
As jy dié gelees het en voel dit praat met jou hart, moenie langer wag nie. Tyd versteen dalk net dit wat eintlik gesond moet word. Hoe gouer jy vra vir hulp, hoe vinniger kan jy weer die lewe voluit aanpak. Wees dapper en steek jou hand op as jy iemand nodig het om jou op te help – daar is opsies!

Deel gerus jou storie van hoop en hulp hier onder. Ons help mekaar dalk net weer vandag.

Met diepe en baie Naguilliefde ♥️

Suzanne

©️Die Naguilklub

#inspirasiestasie
#eendersanders
#ouerskapsonderoordeel
#gesondeouers
#gesondekinders
#mentalhealth
#ptsd
#angs

Deel die artikel

Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar

Nuusbriewe