MAMMA IS O.K.

Toe ek jonk was, het ek altyd gehoop om die tipe ma te wees waaroor my kinders net goeie dinge vir hul sielkundiges sal kan sê. Dat my kinders sou wéét ek’s lief vir hulle, en trots, en dankbaar en ondersteunend, en … geduldig. Ek het gebid dat ek ‘n liefdevolle, geduldige ma sou wees, maar deesdae voel dit asof ek daai standaard vir myself onrealisties hoog gestel het. (Of dalk is niemand ooit werklik daartoe in staat nie?) Geduld is net eenvoudig nie op die oomblik my sterk punt nie.

Die afgelope twee jaar was uitdagend op verskeie maniere. Lang storie korterig, maar na maande van konstante hoë stres en uitputting is ek nie tans die beste weergawe van die mens wat ek wil wees nie. Ek is gespanne, siek, soms nogal depressief en erge paniekaanvalle het my hardop (en té gereeld) aan my menslikheid begin herinner. Ek is in terapie en op medikasie – it’s a journey.

My gesin was nog altyd my sielsgeluk. Tim verstaan my goed genoeg om te weet dat ek wérk hieraan en beter word, maar die ding wat op die oomblik die meeste by my spook is my ongeduld met Sophia en Migael. Want sien, na ‘n lang, uitputtende, introspektiewe dag is daar soms so min van my oor, emosioneel, dat ek partykeer byna niks het om meer vir hulle te gee nie. Ek raak gillerig en kwaaier as wat nodig is, en na die tyd spook my kort lont by my. En dit MAG NIE so wees nie. Dis nie wie ek wil wees nie.

Vandat ek kan onthou is dit al een van my definiërende eienskappe dat ek beter kan lyk as wat ek voel; ‘n bietjie maskara, rooi lipstiffie, en ek kan gelukkig en gesond lyk – my superpower. Soos elke ma sit ek dus maklik my gesiggie op vir ander. Vir my kinders kan ek glimlag, drukkies gee en so ver moontlik probeer opmaak vir elke woedende oomblik waar ek te hard geraas het of gevoel het asof ek gaan ontplof – maar dis eerlikwaar soms eenvoudig net uitputtend. En ek wonder elke keer of dít is hoe hulle vir my sal onthou.

Kinders sien immers reg deur tot by jou hart – dit help nie om net O.K. te LYK nie. Om O.K. te wéés vir hulle is daarom party dae my moeilikste én belangrikste prioriteit, want hulle verdien ‘n ma wat gesond genoeg is om hul siele te help koester. So ek werk hard aan haar.

My realiteit op die oomblik lyk party dae alles behalwe soos daai prentjie wat ek oor myself wou geskets het. Ek is ‘n stoompot – ek kook oor na binne. En dit sal sekerlik nogal makliker wees om eerder verder in privaatheid te prut en vir niemand te vertel nie, maar wie help dit?

Ek is gefrustreerd en soms skaam hieroor, maar ek probeer die genade op myself toepas wat ek vir ‘n vriendin sou gehad het wat hiermee worstel wanneer ek sê: ek’s nog nie waar ek wíl wees nie, maar ek’s op pad terug na haar toe.

Intussen, as my kinders vra:

Ek is (elke dag ‘n bietjie nader terug na) O.K.

♥️
Juanli

————
Die Naguilklub
(CC: Lente en Suzanne)

#inspirasiestasie
#ouerskapsonderoordeel
#geestesgesondheid
#angs
#geduld

Deel die artikel

Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar

Nuusbriewe