DIE STOOMPOT

“Gooi die boontjies in die pot. Rasper dan twee aartappels saam met die kookvleis en maak seker daar is genoeg water bo-oor die boontjies. Die aartappels maak die sop lekker dik … ”

Die stoompot was ‘n verjaarsdaggeskenk verlede jaar van my Ma af. Tóé het ek nie juis tyd gemaak om dit baas te raak nie. Kan nie onthou hoekom nie – dalk was ek te “besig”? Ek het wel geweet dis ‘n keeper; ek sou dit een of ander tyd uitfigure en begin gebruik.

Een van my ma se grootste vreugdes was om (die lekkerste) kos te maak en te sien hoe almal dit geniet. Haar stoompot het so ‘n bloedrooi deksel met ‘n stoommeter gehad. As dit stoom afgeblaas het, het ons geweet die heerlikse comfort food wag! Toe ons op universiteit was, het sy bakkies en bakkies gevriesde kookkos en sop saamgestuur vir die volgende week of drie. Ek het altyd gewonder of ek ooit by haar sou kon kers vashou … ek kon beswaarlik ‘n eier bak toe ons getroud is (op skool het die sportveld die kombuis gewen ?).

Met Moedersdag om die draai, wonder ek: is daar ‘n resep of ‘n brousel om die gemis minder te maak?

Haar verjaarsdag wag ook. Die realiteit is meer real in tye soos dié …

Die stoompot sal waarskynlik oortyd werk nou dat ek weet hoe maklik dit is en wat ‘n mens al’s daarmee kan maak. Ek wens net ek kon vir my Ma iets daaruit opdis om haar só te bederf en vir haar dankie te kan sê. Vir al’s.

“I won’t ever forget.
And the pain is too mixed up with the beauty to ever fade – it’s built into the design of this intricate life.
But for my own survival,
I’m learning to hold it lightly
and to let it come and go,
as it always does.”
– Sweatpants & Coffee (Nanea Hoffman)

Ek sal steeds Sondag ‘n “Gelukkige Moedersdag” vir my Ma “stuur” – die eerste een sonder haar by ons. Sy het immers die weg vir die volgende generasies gebaan. En vir dít is ek haar ewig dankbaar.

Ek is omdat Mamma was. Omdat Mamma lewe aan my geskenk het, kan ek vandag ‘n mamma vir ons dogtertjies wees.

Liefde
Suzanne

Deel die artikel

Deel op
Deel op

Lewer Kommentaar

Nuusbriewe